[p. 46]
Elisabeth Eybers
Gedichten
Papier is geduldig
Vir elke knelling van nou en hier
vind jy ‘n noodluik van papier.
Geen bokkesprong of papier is bereid
tot lankmoedige medepligtigheid.
Wat nouliks bestaan word toevertrou
aan papier wat dit omhels en behou.
Die ongenaakbare chaos vertoon
op papier ‘n hartvormige patroon.
[p. 47]
Stilte
Ek het vergeet, vergeet
hoe mens jou blootstel, hoe jy jou laat beseer
deur onmatig van ‘n ander mens te hou.
Jou volsinne het my nooit die les geleer
wat jou swye my toevertrou.
[p. 48]
Volgens afspraak
Mekaar volgens afspraak sien
beklink jou houvás op my hart
– vermoed ek ten minste. Miskien
moet jy ook soms daaroor dink.
Droombeelde wat volhard
– wáárom kan niemand verklaar –
en dan in jou bysyn versink
kleur elke afwesigheid.
Binne bereik van mekaar
gun ons mekaar die tyd.
[p. 49]
Pas op
‘n Welgeskape roekelose kind
vir wie volwassenes dit nodig vind
om telkens pas op pas op te beveel
bly – meer geluk as wysheid – skaflik heel
totdat die jare en ‘n donker drang
na die absoluut onbesonne sprong saamspan
teen al wat haar beveilig het tot dan.
Sy leer oplaas die oggendlig ontvang
en vashou soos ‘n porseleindun bord
wat, as sy strompel, sou versplinter word.
Die retoriek waarop sy haarself betrap
– pas op – kom straks te pas by elke stap.
[p. 50]
Hemi-facialis spasme
Die ouderdom het haar ‘n poets gebak.
Nie lank gelede onuitsonderlik
vertoonbaar en tot allerlei
arglose rymelary in staat
raak sy verstrik in ‘n primitieve grap
toe ‘n bloedvatknik bedolwe in die brein
plotseling sy eie skertsbevele sein.
Betrokke dokters, stemmig in hul skik,
karteer hoe, deur beneweling in die steek gelaat,
sy nou mismoedig en ontmaskerd agterbly
met ‘n sidderende lid laag oor die linkeroog
en die regtermondhoekkrul spottend omhoog:
Janus wat maar oor één gesig beskik.