Drie gedichten
door B.J. Toerien
Aspekte van liefde
My hans, ‘n maanduif, is gepaar met my hand,
‘n onvanpaste paramour. Dog hul bereik
eenwording met hoog-seldsame volkomenheid.
Hy hoef alleen hom uit te strek bo haar
of sy buk honger voor haar heer,
soek en soen sy vingers en plat
gee haar geheelenal oor, word tot niet.
My hand se hanswors dus? Inteendeel,
soos hy haar streel, sy vyf vingers sluit
om haar trots skoenlapper nek, en sy klein skreetjies stoot,
voel hy die fyn stuip-trekkinge, leer hy ‘n hand se doel.
Die uitspansel hoog oor my
Die uitspansel hoog oor my span
sterwolk-sisteme oop vanwaar
my ruig voorvaders lesegrim
uit eie konstellasies staar
en na my neerfrons want ek grief
hul seker daagliks; my beleid
is om te wys ek het hul lief
(hul is tog in die meerderheid).
Ek knik my kop erkentlik dus
al gee hul nòg glimlag nòg guns,
en gaan my gang en slaap gerus,
hoog dankbaar ek is minstens mens.
Alleen
Ook baie ander is alleen:
agtergelate oumense, goewernantes;
en te midde van elke huisgesin is daar altyd een
wat nooit sal uitvind waar sy land is.