Heilna du Plooy
Die huis onder die water
Die vertaling van die gedigsiklus ‘Het stuwmeer’ deur Willem van Toorn
Die aantreklikheid van Willem van Toorn se gedigsiklus ‘Het stuwmeer’ lê vir my in die eenvoud en direktheid van segging asook die volgehoue en gedrae opbou en uitbou van die tematiek sodat diepsinnige dinge in eenvoudige woorde en versvorme gesê word.
Die keuse van die teks vir vertaling
In die voorstudie vir ‘n akademiese artikel in 2007, het ek besluit om Van Toorn se siklus gedigte in Afrikaans te vertaal. Die oogmerk was nie om die Nederlands meer verstaanbaar te maak nie, maar om die digterlike kwaliteite van die siklus in Afrikaans weer te gee. Ek was van mening dat die tematiek, die digterlike aard en styl van die siklus ook in Afrikaans tot lewe sou kon kom mits dit goed genoeg vertaal sou kon word.
Vir professionele vertalers geld daar dikwels beperkings by die keuse van werke wat vertaal moet word, veral wanneer dit gaan om opdragwerk, maar in hierdie geval was daar vir my die luukse dat ek as leser, ook as digter en letterkundige, entoesiasties was oor die gedigte en graag die vertaling wou onderneem.
Die aard van vertaling tussen Afrikaans en Nederlands
Die geldigheid of die nodigheid van vertaling tussen Afrikaans en Nederlands word dikwels beredeneer. Sommige vertalers en lesers is van mening dat die twee tale wedersyds toeganklik genoeg is en dat tekste in die oorspronklike tale gelees moet word. Dit is wel waar, maar daar is tog by literêre tekste en miskien selfs nog meer in die geval van die poësie, ‘n groot uitdaging in die vertaling tussen Afrikaans en Nederlands. Dit gaan immers om ‘n proses wat ‘n gekompliseerde vorm van vertaling is en wat in die geval van die poësie eerder as omdigting of herdigting beskryf kan word. Uiteindelik gaan dit daarom om in dieselfde digterlike formaat, dieselfde inhoud
en tematiek van die Nederlandse teks weer te gee in Afrikaans op so ‘n wyse dat dit ‘n samehangende en oortuigende estetiese teks bly, dat dit dus steeds ‘n goeie gedig bly. So ‘n proses behels veel meer as om net betekenis of net korrelerende versvorm na die doeltaal te transponeer. Dit vereis van die ‘vertaler’ om deurgaans tegnies en inhoudelik op ‘n verantwoorde wyse poëties te werk te gaan en ‘n nuwe poëtiese teks wat ooreenstem met die oorspronklike daar te stel.
In vertalings tussen Afrikaans en Nederlands is sowel die ooreenkomste as die verskille tussen die tale ter sake. Afrikaans en Nederlands is tale wat familie is van mekaar. Die basiese taalritme, die klankstelsel, die woordeskat, sommige grammatikale strukture, selfs sommige idiome en vaste uitdrukkings is gedeeltelik verwant. Daarteenoor staan die verskille soos die vereenvoudigde grammatikale struktuur van Afrikaans, veral die verlies van uitgange (wat lettergrepe verminder en die versritme beïnvloed), verbuigings en vervoegings, Afrikaans se verledetydsvorm wat ‘n perfektumvorm het teenoor die Nederlandse imperfektum, Afrikaans se dubbele negatief, juis die afwykings in verwante vaste uitdrukkings, die gebruik van voorsetsels en nog veel meer. Al is die tale dus wedersyds verstaanbaar, is ‘n woordvir-woord-vertaling onmoontlik. Nederlandismes is in Afrikaans hinderlik omdat Afrikaanse lesers nie meer genoeg Nederlands lees of ken sodat dit vir hulle bekend, half-bekend of natuurlik kan klink nie. In enige vertaling veroorsaak die reste van die brontaal immers ‘n strakheid in die teks in die doeltaal wat liefs vermy word.
Die totaal verskillende wêrelde waarin die twee tale funksioneer, speel indirek in op die vertaling. Afrikaans bestaan in en deur die ritmes en klanke en woordeskat van Suid-Afrika, ‘n groot en uitgestrekte jong land met ontwikkelingsprobleme. Daarteenoor is Nederlands in Willem van Toorn se woorde deel van ‘dat zo met verhalen, structuren, geschiedenissen en artefacten overladen Europa, om van het volle Nederland maar te zwijgen’. Vanselfsprekend word die twee soorte ‘landskappe’ in fisiese en abstrakte sin ook gans verskillend benader deur die sprekers van die tale en die kulture.
Wat vir my egter merkwaardig is, is dat, onder en agter die ruimtelike verwydering van meer as drie en ‘n halwe eeu, die verskille in geskiedenis asook in kulturele en politieke omstandighede, daar steeds ‘n diepliggende kulturele verband tussen die sprekers van Afrikaans en Nederlands bestaan. Dit is byna soos die metafoor in Van Toorn se gedigsiklus, naamlik die metafoor van die huis onder die water as ‘n onsigbare maar tog dwingende herinnering. Dit gaan om ooreenstemmende denkwyses, ‘n aangetrokken-
heid tot dieselfde soort problematiek soos onder meer ‘n etiese bewussyn en ‘n individualistiese soeke na sin en betekenis (wat natuurlik ook in ander kulture voorkom, maar hier spesifiek ter sake is). In beide kulture en in beide tale se literatuur gaan dit ook dikwels om ‘n bemoeienis met die dinge wat agter en onder die oppervlakkige voorkoms van dinge lê.
Hierdie aansluiting tussen tekste in Afrikaans en Nederlands berus natuurlik deels op die universele eienskappe en temas van die literatuur en van menslikheid in die algemeen, maar dit sê wel ook iets van die bykans hardnekkige oorlewingspotensiaal van die abstrakte aspekte van ‘n kulturele denkwyse en lewensuitkyk. Oor die redes en aard van die bestaan van hierdie kulturele en linguistiese argief waaroor ons blykbaar beskik, kan daar wyd bespiegel word en ek laat dit daar. Ek moet egter erken dat my persoonlike waarneming en ervaring daarvan waarskynlik wel ‘n rol gespeel het in die vertaling waaroor dit hier gaan.
Die stelling wat ek wil maak, is dat dit gewis moontlik en gewens is om te vertaal tussen Afrikaans en Nederlands. Sulke vertalings is sinvol sowel op grond van die boeiende taalverwantskap en taalverskille, as op grond van die kulturele ooreenkomste en verskille. Die verbande tussen taal en kultuur sorg dat die vertaalde tekste betekenisvol, relevant en aktueel is vir die lesers, en die verskille gee daardie skerp kantjie van vervreemding, daardie opwindende gaping in betekenis wat deeglike lesers lok en fassineer. Die uitstoot van die grense van die denke geskied dus uitgaande van ‘n bepaalde (groter of kleiner) gedeelde basis sodat dit gebeur op ‘n ‘kontinue’ wyse. Sodoende word lesers se verwysingsveld en leefwêreld verwyd en verdiep, wat uiteindelik tog een van die belangrikste funksies van die literatuur as sodanig is.
Werkwyse
Tydens die vertaalproses is die gedigte vertaal en aangestuur aan Willem van Toorn wat dan vrae gevra en kommentaar gelewer het. Daarna het ek as vertaler oorgewerk en herskryf. Die groot voordeel in die hele onderneming was dat vertaler en digter albei beide tale relatief goed beheers en dat hulle met mekaar in gesprek kon tree oor betekenis en atmosfeer, oor die interpretasie van die te-vertaalde teks en oor die verwoording van nuanses in die doeltaal. Desnieteenstaande was daar ook misverstande en probleme wat uitsorteer kon word. Daar is dus via e-pos en ook persoonlik gesprek gevoer oor elke versreël totdat beide digter en vertaler tevrede was. Dit was van die vertaler se kant beskou ‘n groot voordeel en ook ‘n voorreg om so met die digter te kon saamwerk.
Taal en tegniek
In die omdigting en herdigting van poësie moet die probleme wat ontstaan, hetsy linguisties, kultureel of ideologies van aard, poëties hanteer en verstegnies opgelos word. Vanselfsprekend is die semantiese en die tematiese ooreenstemming ‘n vereiste, maar alles moet poësie bly.
Die feit dat Afrikaans en Nederlands heel dig by mekaar lê, maak dit verstegnies maklik én moeilik. Daar kan nooit ‘n te voor-die-hand-liggende oplossing gekies word, sonder om seker te maak dat dit wel goeie Afrikaans én poëties is nie. Vir ‘n vertaler wat self ook dig, is dit egter fassinerend dat Afrikaans wat so eenders is ook so anders is as Nederlands. Die digter/vertaler moet dus regtig diep in die taal ingryp en diep delf vir sowel alternatiewe woorde as poëtiese tegnieke.
Almal is bekend met die verskynsel van die sogenaamde valse vriende, woorde met dieselfde vorm waarvan die betekenis oor tyd heen verander het. ‘n Nederlandse ‘schommel’ is ‘n Afrikaanse swaai, ‘uitspanning’ is in Afrikaans ‘n verouderde woord wat met die uitspanplek van ossewaens geassosieer word, ‘n ‘hoge kombuis’ is in Afrikaans gans onbekend asook ‘n ‘mooie kamer’ en dit moes ‘n ‘outydse kombuis’ en ‘voorkamer’ word in die vertaling.
‘n Interessant geval was die woord ‘valwind’ wat eintlik ‘n nuutskepping van Van Toorn is en net so behou kon word omdat dit ook ‘n baie mooi nuwe woord in Afrikaans is, meer nog, ‘n woord waarvan die betekenis nie misverstaan kan word nie.
Die bedrieglikste verskille setel egter in die skynbaar kleinste woordjies, in die woordorde, in die opeenvolging van frases. Die eis waaraan voldoen moet word, is juis om daardie nuanses wat jy aanvoel suksesvol weer te gee om die resonansies van die gedig nie te laat skade ly nie. Daar moet ook deurlopend in ag geneem word dat in ‘n gedig alles aan mekaar verbonde is. ‘n Goeie gedig is ‘n netwerk, ‘n spinnerak, ‘n web wat in sy geheel roer as daar aan een spinnedraadjie getrek word.
Die verhouding tussen sintaksis en tipografie is dikwels gebruik om probleme op te los: om die dubbele negatief minder opvallend te maak asook om die versterkende werking daarvan uit te buit. Die verledetydsvorme is ook soms hanteer deur woorde na ‘n volgende reël oor te skuif sodat die Afrikaanse gedig wel al die inligting behou maar nie altyd in presies dieselfde versreël nie.
Ek gee ‘n enkele voorbeeld om te illustreer hoeveel veranderinge, kontekstueel, grammatikaal en verstegnies, nodig is om ‘n teks van Nederlands na Afrikaans om te werk.
Die siklus ‘Het stuwmeer’ begin met ‘n beskrywing van ‘n man langs ‘een blauw meer’. In die gedig rym ‘meer’ met ‘neer’ en ‘zon’ met ‘begon’. Die water waarvan daar hier sprake is, is ‘n ‘stuwmeer’, dus ‘n mensgemaakte struktuur waarin water agter ‘n stuwal opgedam word. In Afrikaans kan ‘n mens egter glad nie van ‘meer’ praat as dit gaan om ‘n mensgemaakte dam nie. ‘n ‘Meer’ is in Afrikaans ‘n natuurlike meer, ‘n versameling van water soos dit vanself in die natuur ontwikkel het. ‘n Dam word gemaak en hierdie dam in die gedig moet dus ‘n opgaardam of ‘n studam genoem word. In die eerste strofe word die aard van die dam egter nog verberg en hierdie poëtiese procédé kan ook nie uit die oog verloor word nie.
Omdat die woord ‘meer’ nie gebruik kan word nie, gaan die rym met ‘schrijf neer’ verlore. Aangesien die siklus deurgaans nie streng omgaan met ‘n vaste rympatroon nie, is die rym losser hanteer. Soms het daar kompenserende horisontale klankpatrone ontstaan soos die kort en lang a-klanke in die eerste twee reëls. In ander gevalle het ander ryme ontstaan as in die oorspronklike maar die digter was tevrede met die manier waarop die rympatroon ondergeskik gestel is aan sinsritme en betekenis, mits die klanksensitiwiteit behoue bly.
In Afrikaans kan iemand nie ‘staan aan de rand’ van ‘n meer (dam of water) nie. Die ‘o’ in ‘begon’ word ook verloor as rymwoord omdat die verledetydsvorm in Afrikaans heeltemal anders werk. Direk vertaal, sou dit wees: ‘So eenvoudig soos wat dit begin het’ wat ritmies nie goed is nie. Die veranderinge wat aangebring moes word, werk verder in ‘n kettingreaksie sintakties deur tot in die laaste reël van die strofe. Die hele strofe moes dus ingrypend verander, al is dit relatief eenvoudig en heeltemal begryplik.
Die strofe verander dus soos volg:
Op dieselfde manier kan die kompleksiteit van die omdigting aan die hand van bykans elke versreël verduidelik word.
Ten slotte
In poësievertaling is dit myns insiens belangrik dat die tematiek en poëtiese styl van die brongedig behoue moet bly. Dit is immers die vertrekpunt van ‘n poësievertaling. Daarom het ek gepoog om die stilistiese ekonomie en helderheid in ‘Het stuwmeer’ te behou. Die kontras tussen die rustige en besinnende toon van die siklus en die diepgaande kwessies waaroor dit gaan, is vir my die lewensaar van die siklus. Om hierdie onderbeklemtoonde en indirekte poëtiese trefkrag te behou, is wat ek graag sou wou bereik met die vertaling.