[p. 89]
Elisabeth Eybers
Sterwende
Nou knal die walle van die tyd
voor aantog van die ewigheid
en styg die gistende gety
die laaste bakenpen verby.
Sy neusvleuels swoeg, nog ongewend
aan hierdie strawwe element,
sy oordrom dreun van die rumoer
wat fondamente ruk en roer,
sy netvlies krimp, deur slierte lig
geklief. Sy vleeslose gesig
is blink gebeitel en geskaaf
tot sidderende seismograaf.
Jong seun
Why were we crucified into sex? Why were we not left rounded off, and finished in ourselves?
D.H. Lawrence
Die seun klim druipend uit die bad;
sy hele lyf is gaaf en glad
en heel, tot in die holte van
die nael waaroor ‘n seepbel span.
Strak ledemate, ribbekas
hoekig en hard soos ‘n kuras,
handdoek in hand staan hij bereid,
gerig en toegerus tot stryd.
Tog, onvolkome afgerond,
hoe sal die lewe hom nog wond:
In sy Achilleskern vind
hy geen beskutting – man of kind:
Geheg aan die benedebuik
waar blink haarrankies reeds ontluik,
deuraar, teer soos ‘n ooglid, sag
soos murg, hang weerloos die geslag.
Verwyt
Woorde wil àl wat uit die duister wel
in hul spitsvondige patroon saamknel.
Die flikkering van aksiomas dring
soos angs-oë deur die nag wat ons omring.
Woorde wil die Verborgenheid laat swig
voor hul misleidende moerasgaslig.
‘Hier is die Wondermiddel wat nooit faal!
Hier is die Waarheid, binne perk en paal!’
Kwaksalwerkrete en kermismusiek
laat jou terugkrimp, eensaam en twyfelsiek.
Maar ná ‘n week in die woestyn – wat bly
nog oor van jou onkreukbaarheid, as jy
dit opgesom en vereenvoudig het
tot ‘n klein, selfgenoegsame sonnet?