Elisabeth Eybers
Leeftijd
Sóveel jare vertroud
met alles wat men kan hé,
met alles wat mens moet mis:
hoe oud hulle werklik is
kan hulle self nie sê –
Onberekenbaar oud,
onberekenbaar ryk
aan littekens wat hulle nou
met ‘n ligte glimlag beskou,
met sagte vingers yk?
Of kleuters in die woud
– bang aan mekaar verbind
met styfgestrengelde vuis –
wat al vèrder dool van huis
om ‘n blarebed te vind?
Pygmalion
Geen vakman was so kundig of so snel
in die hanteer van beitel en lanset
om bloot te lê, te suiwer, te herstel
wat God in brute rots gekerker het.
In redelose eensaamheid bemerk
hy hoe die vrou onder sy vuis ontplooi,
en streel en streel die koue handewerk
totdat sy langsaam sidder en ontdooi.
Asiel
Van saamheid nog asemloos was hul gesteld
om skugter en plegtige dinge te waag
wat die sout op hul lippe tot ouel laat smelt,
soos reën hulle warm gelaatshuid behaag;
om torings en skoorstene nader te haal
tot dugtige stutwalle rondom te pak,
in die donker nog dieper dan seevlak te daal
eer die aardbol in oorryp granaathelftes knak.