Elisabeth, Eybers
Oorsig
Van kindsbeen af het ek die boos-
heid van die vlees geraai,
so wêreldwars en argeloos
het Vader dit versmaai.
Maar Moeder was ‘n donker vrou
met ‘n stiletskerp gees:
van onversoenbaarhede sou
ek later nooit genees.
My pastorale vader wis
haarfyn hoe alles hoort,
teen elke ydelheid en lis
gewapen met die Woord.
My moeder het gevit, gevra,
geluister en gelees;
sy kon soveel verdriet verdra,
so ondeemoedig wees.
Van háár het ek die snelle drif,
die onrus en die skroom,
van hóm die vreemde teëgif
van ‘n ontasbre droom.
Deur brakkerige dieptes kon
my wortel weerbaar dring,
ook ék haal uit mistieke bron
my soet versadiging:
‘n liefde wat geen lessing bring,
niks ledig of sondeer,
maar eensaamheid en hunkering
verruklik raffineer.
Met aftreksels van skaduwee
moet ek my daagliks voed:
my vader was die dominee,
my moeder vlees en bloed.