Fabel
Onder misbredie
in die reën uitgestrek,
voer twee erdwurms
‘n spits gesprek
oor ‘ek’ en ‘jy’
en ‘my kontrei’,
oor ‘hier was eerste
my krot van klei.’
‘n Toevallige graaf
het toevallig gesak,
die twee erdwurms
middeldeur gekap:
Vier erdwurms
ruk slymerig voort –
die ‘ek’s’ en die ‘jy’s’
twyfel waar hulle hoort.
In digter bredie
by die herontmoet
het elkeen beleef
homself gegroet.
d.j. opperman