Wensbeentjie
‘Met alles afgepeusel
tot die been,
wat sit ons nog
en beusel –
nahongerig byeen?’
‘Die diepste wens
onuitgespreek,
laat ons ten slotte
mens teen mens
span en … breek.’
‘Bekend of onbekend?
Dis om ‘t ewe
wie die kortste,
wie die langste ent
trek uit die lewe.’
‘In spel as mens
mekaar gekul,
daarom nou ook:
jý wens mý wens,
ek joúe, word vervul.’
‘Dis tyd vermors.
Ons bly twee stuks:
die mik verruk …
tot skerp bros
splinters van geluk.’
d.j. opperman