[p. 109]
Elisabeth Eybers
Dink jy soms
Dink jy soms aan die Bybelse mot en roes
– indringers wat woekersugtig verwoes –
en aan dit wat daarteen gevrywaar bly,
vra nie waar en hoe? En aan listige roet
wat eindeloos neersif tot alles vergly
in ‘n chaotiese grou moeras,
aan die onstelpbare strome bloed
waarvan buurmense naarstig mekaar ontlas
terwyl griewe gevoed word en niemand versoen,
aan hoe jý moet gedy en daarnaas nog boet
deur straks aan ontbinding mee te doen?
O, argloos verseil in die dwase stoet
dwaal die dwaser liefde wat alles vergoed…
[p. 110]
Ewewel
Die stadige, plotseling versnelde proses
van aftakeling lewer bes moontlik ‘n les
oor wat jou voorlopig te doen staan, ‘n wenk
om halsoorkop nog daaraan aandag te skenk.
Ewewel op ‘n onbewaakte moment
van verstrooide begrip word jou blik afgewend,
vervul van die nulvolle dividend
met dieselfde d vir begin en end.
[p. 111]
Envoi
Soete, subtiele, verdagte rym,
by bitter ontwrigting welriekende lym,
ek dank en verwens jou van kindsbeen af
vir die ywer waarmee jy my weg wil lok
van ‘n verstandige lewenswandel
om volgens jou vreemde mandaat te handel.
By uitstek ‘n sprietligte towerstaf
word jy soms ‘n gebiedende trommelstok,
versluierde fluistering of sagte getok
wat gedurig nuwe gegewens verskaf,
‘n eggo wat hulpbehoewend omkyk
of self ‘n helpende hand uitreik.
Heeldag na korrekte opvattings geluister
soek ek troos in die ondernemende duister;
jou boodskap oorstelp my, goedgunstige rym,
ek suig dit die volgende dag uit my duim.