[p. 39]
Fanie Olivier
Gedichten
En God as hy bestaan…
neem haar na die soet soel dal
van warm skaduwees van malse gras waar
die sleutel in haar hand op alle deure pas
die paar gebare om haar skielik duisend
vlerke kry skitterend met betekenis verbind
waar sy kan sluk van verbasing alles
met ligte tred kan betree haar lyf
soos altyd met oorgawe elke haar
getel en op sy plek [sy weet, wees
haar daarom ook nou seer welgesind
en druk haar vas soos ‘n ma haar nuwe kind]
laat haar toe om tog in u son
te lê net’n uur per dag tussen elf
en twee gun haar’n huis om te bedryf
‘n oond waarin sy kan bak en brou
die tafel keurig gedek servette fyn gevou
kristal waaruit die wyn sommerso vanself
sal afloop in haar keel en laat haar onbesonne
lag, o Here, laat haar weer lag en as dit by u mag
ook onbedaarlik huil
maar op my knieë veral
o God, veral:laat woorde vir haar sin maak, oweral
vir jou, my vrou
28/29 junie 2007
[p. 40]
jou dogter pak jou kaste leeg. weeg hier
en daar iets teen haar lyf [haar neus is joune,
besef ek weer]: sal ek dit later dadelik
eien of het die grense reeds begin vervaag? staal mens
jou teen herinnering se wei; is onthou
om weg te hou, te weier, of te vier?
hoekom sou sulke vrae soos ‘n spreeu kom pik
teen die vensters, soos uile in ons solder blaas?
onnadenkend, stelselmatig word die een swart
sak na die ander vol. ek pak dié koffers oulaas
in die isuzu in: soos altyd, te veel, hoor
ek jou sê. ek snak na jou asem, jy gryp aan my hart.
[p. 41]
Krematorium
op sy beste, so weet ons, reduseer
‘n vers baie dinge, iets of iemand
tot essensie: wat word, was vroeër was.
en as is verbande hout, verbrande hart,
verbrande oë, verbrande niere,
verbrande gorrelpyp, verbrande tong,
verbrande skouers en verbrande spiere;
verbrande trekkies om jou mond, verbrande
kuite, verbrande vingers deur my hare
verbrande oorskulp, verbrande neus en longe
verbrande spoeg, verbrande bloed in are
verbrande lippe, plooie, klein gebare,
verbrande uitgedorde brein; verbrande pyn
en hartstog en verlange en plesier.
die liggaam en die ander dinge disintegreer:
ovum tot embrio tot jy en tot as:
van stof is daar alleen ter sprake op papier
as neerslag, oorskot en as raster vir die smart.