[p. 85]
Charl-Pierre Naudé
Gedichten
True north
In maanlig wat voorwêrelds
skyn
kry ek slingerend koers oor duine
met lang gras
na ‘n afgeleë strand aan die Noordsee.
Hier strek die oseaan glad en doodstil
al die pad Noordpool toe.
True north, hoor ek op Engels.
Mens kan die stroom síén trek:
bot, en sterk, en onderlangs –
styf onder die rimpeling
soos ‘n oerou spier.
En níks kan dit keer nie,
dié inkering
van die wêreld na sy keerkant;
die veraf ruspunt se blinde gerem.
Ek loop uit op houtplanke
en staan op die water
omring
van ‘n vreemde spieëlbeeld
van iets vaagweg bekends
waarin alles ontvanklik en sag
en gekoester in die poeierlig was,
maar ook koud en onsydig
en afgewentel tot droesem.
Ongelid.
[p. 86]
Wat ‘n eindelose, glansende oppervlak –
‘n enkel, terugstarende blik.
En ek sien dit skielik
soos ‘n vis dit sien.
[p. 87]
Skelet van ‘n lente, met glastafaltjie
Sylt-eiland, Noord-Duitsland
Daar lê ‘n geraamte
onder die glasblad
in my woonvertrek.
En die teekoppies
wat silwerig skud
aan die ander kant
van dié gesmede gewrigte
(nooit sal bo en onder raak nie),
dryf skynbaar in die lug.
Die membraan
van glas is tussenin.
In die uur van die halflig.
Blertse groen marsjeer
glinsterend
soos ‘n kinderweermag
oor die valerige duineveld;
die wind onthou die bossies hare.
‘n Straler vlieg ‘n landskap binne
wat volledig net gedroom is –
maar hou áán met vlieg.
[p. 88]
Visvywers spikkel
met hul klippe die water in
en só word die wêreld gepak;
alles eers bakterieë,
dan die patrone van voëls,
en onsigbare aanloopbane wat gesing word
in die fynste stippels kwantumlig.
‘n Handvol breinaalde
pryk verlate
in ‘n mandjiehawe
en die oseaan
kruip plat tot aan die horison
soos deeg in ‘n pan;
dit vloei gereeld oor ‘n eiland hier naby
tot net die hoogtetjie met huisies
in die middel oorbly,
‘n Sions top
waar die water in gordyne van weggly,
die vergane dag onder
en ‘n hiernamaals bo
die verdeelstreep
deur Mies van der Rohe.
[p. 89]
Op die sneltrein na Hamburg
Eens was ons intiem
maar nou lyk dit klaar.
My hart sak en styg
soos ‘n volgmissiel
wat oor die deinings galop.
En die landskap glip ylings verby,
maar tog bly dit daar.
Dit reën treinvensters,
die wind van seëls weerskant van my geplak
ontplof soos ‘n possak by ‘n tonnel uit;
dan hou die storm skielik op
in ‘n stasiegebou
voor die groen weer die wyk vat
na links en na regs,
en iewers ver,
die blou lug soos altyd.
Nou bly net
die leë hulsels oor.
En selfs dit bly mooi,
veral dít.
(Soos wat nou net
verbygeflits het tussen)
[p. 90]
verstrooide bale hooi
weikampe
pure weerlig was dit
in enamel
gebalsem
vir ewig
liefling
twee wit baddens
in ‘n verlate groen veld.