[p. 297]
Elisabeth Eybers
By die duitse vertaling van enkele van my gedigte
Moeisaam, onstuitbaar, spontaan,
dan en wan uit ‘n woordspel ontstaan,
van hul ware gedaante ontdaan…
Die weerkaatsing op glimmender vlak
waarteenoor ek nie weet wat betaam
spreek my nou salwend aan:
Siedaar jou taal, steeds Germaan,
op gebied van vervoeging ‘n wrak
met vernufryke ondergrond,
verbaster en kerngesond,
word erken as ‘n wettige tak,
deur streng medeklinkers voltooi,
met speekselgesis ingesmeer,
hoofletters mild rondgestrooi,
op sy nommer gesit en vereer…
vind jy dit nie verrassend mooi?
Hierby lê ek my aarselend neer.
[p. 298]
Kliniese hipotese
Indien die uroloog, in teenstelling tot al die vorige kere,
die behandelkamer sou binnetree en ‘n blik werp op die gesig
wat verbind is met die weerloos tentoongespreide en van klere
bevryde ledemate en ‘n Dag mevrou Watsenaam daarheen rig
sou jy dink sy professionele fatsoen het hom versaak
óf dat hy skielik vermoed hy het met ‘n mens te maak
en nie bloot met ‘n blaas nie:
vir albei betrokkenes ‘m oomblik van grasie.
[p. 299]
Afskeid
Die ronde vuurkleurige sinkende son
vergryp hom nog tussen al die beton
aan ‘n laaste verlate wanhopige raam
wat hartstogtelik soebat om saam te gaan:
hy talm ‘n oomblik om hom te bedink
en laat haar dan in die kanaal maar verdrink.