[p. 107]
Elisabeth Eybers
Opgawe
Al die gure gewaarwordings warrelig verwek
uit krenkbaarheid, instulping, selfsug en so
het my weggaan geteken. Eenselwigheid,
‘n ononthegbare binnehuid, strek
tussen my en die strak grou-en-groen plattegrond
wat verdwaasde asielsoekers gasvry verstrik.
Ruimte, misterie, wanorde, tragiek
van ‘n maatloos ontembare kontinent
was in my gevesel, hoe kon ek krimp
tot voorgeskrewe omgewingsmimiek?
Ek ondervra die verlede nog steeds,
sprokkel destyds gesmokkelde brokkies liriek.
Winterse wysie
‘n Sondagdigter ongeag die dag van die week:
tot hierdie slinkende gilde het ek gesink.
Ek merk hoe die ongerymdheid aangroei en dink
dat ek nie soos ‘n outydse grammofoonnaald mag bly steek
dog die steeds weer te voorskyn gebaggerde dag moet ontmoet
vrywillig en onvoorwaardelik en te voet,
wie weet onderweg nog iets tintelend vind om te doen
en my sus of so met ‘n newelige uitkoms versoen.
[p. 108]
Trauma
Wie onverhoeds die brandyster hoor sis
sal daardie skerp geritsel nooit vergeet,
speeksel oorspoel sy tong hoewel hy weet
dat dit sy eie intieme skroeigeur is
wat hy voortaan dag in dag uit moet blus.
Vademekum
Verse versin mag nooit alte tydrowend wees.
Die maaksels wat jy as noodsaaklik beskou moet ontstaan
danksy of ondanks en met snode verwaarlosing van
die handelinge wat jou die reg skenk om te bestaan.
Reken meer eer aan die letter dan aan die gees.
Rym is gevaarlik. En – nog ‘n dringende wenk –
veronagsaam veral wat andere daarvan dink.