[p. 488]
Elisabeth Eybers
Drie gedichten
Besoeb aan ‘s-Graveland
Ek, buitestaander, gaan toevallig saam:
dáár, sedert die onskendbare appél,
verkeer jou ouers reghoekig ingeraam,
uiteindelik met niks meer te vertel.
Tog toef ons ‘n toepaslike kwartier
en loop weer verder langs die sober rye,
die datumpare wat soos deur ‘n kier
‘n skraal gerug versprei van vóór die swye.
Rondom die donker borswering van bome
blaker Augustus ongebruiklik fel,
verinnerlik die strakgekerfde vrome
slagwoorde so eenstemmig opgestel.
Dan wys jou arm: my naamgenoot, kyk daar…
‘n Vae, voorbarige familielid,
nie eens jou grootvader… Bevrore staar
ek na die marmer akte, swart op wit.
[p. 489]
Individualis
De mensen sterven en zijn niet
gelukkig wapper naas die deur
van die skoenmaker op die hoek:
muurskildering van ‘n amateur
in gangbare heelalverdriet.
Die hobbelrige kinderskrif
pryk maandelank: geen verfkwas waag
om vonnis van ‘n nihilis
vol dampige ontnugteringsdrif
of neo-transendentale angs
met ruwe hale weg te vaag.
Hoewel nog nooit opvallend kloek
wandel ek weer vandag daarlangs
en ondiepsinnig vergewis
ek my dat ‘k leef en selfs, danksy
jy-weet-wat, stomgelukkig bly.
[p. 490]
Vier goue adelaars
Vier goue adelaars het na Engeland teruggekeer.
Die tintelende hemelakrobate
bou hul enorme neste in ‘n verlate
weiland en word deur skildwagte beskerm.
Eeue gelede is die edel swerm
met donderbusse en gaffels uitgeroei
of na die agterliker vasteland verjaag
waar hulle al in die Middeleeue by
die jag, verblind, slegs op die koningspols mog ry.
‘n Meer verligte tydvak het gedaag,
nou durf hulle weer in ‘n groen graafskap broei:
die langvervloë eensame verwate
en luisterryke kaftanpotentate
word fluisterend eerbiedig ingehaal.
(Natuurliefhebbers weet te konstateer
dat hierdie ras se deur-die-weekse dis
veldmuise, slange, ongediertes is
en dat hulle verder veelal aas verteer,
dus geen bedreiging vir die dartel lam.)
[p. 491]
Terselfdertyd en duskant die kanaal
weerklink ‘n onheilspellender tamtam.
Vier goue adelaars het daar neergedaal,
vier geel Japanners het hier opgestyg:
dié feite het ek op één dag geleer.
Verband, indien aanwesig, word verswyg.
18.9.’74