Elisabeth Eybers
Drie Gedigte
Familiegroep
Vyf stuks op die perron dig bymekaar,
kringvormig, mikrokosmies – ‘n klein kol
binne die mensemaling saamgestol
totdat die trein sy stoomdekreet verklaar.
Twee vroegvolwasse dogters lag en praat.
Hul blikke flikker skrams terwyl bul styf
die vader flankdek. Ligte skalksheid dryf
soos ‘n dun damp om hande en gelaat.
Moeder en seun is swygsaam en bedag
op donker voorgevoelens. Sy verleen
aan die toneel haar afgetrokke seën.
Sy kop geknak teen haar skraal skouer, wag
hy met besorgde oë en sagte mond.
Drie dreuning tonnel opwaarts uit die grond.
Beroep
Jou huls van vastigheid om my gegiet
skraag my tot iets omskrewe en solied
wat in jou onteenwoordigheid weer dreig
om tot gedaanteloosheid weg te syg.
Die Vreemdeling in die vlermuismantel wag
en fluister soet formules in die nag
en lok my om ontydig te ontsnap
langs slingerpaadjies deur die savart landskap.
Wees jy my digte wapening en sluit
die skuiwergate van my vloeibaarheid!
Kwatryn
Pyn, onverbiddelike bedgenoot,
jou gloeiende omhelsing seng my skoot:
wat kan diè vonke-losing nog verwek
as af en toe ‘n lewensvreemde loot?