[p. 443]
Elisabeth Eybers
Gedichten
Op die ou end
Bedrywigheid spel steeds verlies.
Al kry jy nog kans om te kies
doen jy afstand van aksie en keer
binnewaarts om berusting te leer
in wat deur die jare vergaar
en moeisaam ophoop. Jy aanvaar
hierdie negatiewe gewin
in duistere valuta geïn.
[p. 444]
Trapsgewijs
Jou eerste en onontbeerlikste taak
was om, desgewens, kompromieë te maak.
Elke volgende opdrag het méér absoluut
geklink, onweerlegbaarder dan ‘n statuut.
Geen gebeurlikheid daag nou behalwe die een
waarby niemand jou vra om konsent te verleen.
Intussen ‘n voordeel, verassend wyl nuut:
hoe reddeloser die kluts jou versaak
des te minder hoef jy teen verwarring te waak.
[p. 445]
Somer
Vanjaar het ek somer aanskou,
hoe dit laag na laag ope vou
in onryp glimmerende groen,
so uitbundig soos plofstof dit doen,
deur matigheid ongemoeid.
Na dit ‘n rukkie gegroei’t
het dit behoedsaam vervaag
tot ‘n sediger tint, iets bedaag:
sy enigste oogmerk oorlewing,
in plaas van vergelding vergewing
Dis waar, vlak by, voelbaar, bestaan
‘n soort drang om op vlug te slaan
en my oë beoog reeds ontrou,
tog, hoekom in hemelsnaam sou
ek nie reken op somer vanjaar?
[p. 446]
Aanpassing
Dat iemand wat vroeër bereikbaar was
geen tyd meer het vir jou
is ‘n feit wat heel begryplik pas
by hoe die soort sake ontvou:
as ek jy was, sou ek eerder besef
dis dom om iets wat ‘n ander verkies
deur jou klag tot ‘n treurspel te verhef
vol reddelose verlies.
[p. 447]
Renterekening
Omdat ‘k versuim het om jou weer te sien
groet ek jou elke dag in fantasie:
erkende gemeenskaplikheid en nie
minder of meer as wat ‘n mens verdien,
die enigste manier om (onervare
in vrolik meedoen) wins te maak deur jare.
[p. 448]
Onderneming
Te oud om nog van enige nut te wees,
met oë te dof om sonder loep te lees,
poog ek om deur oortuigende verlies
ontbering te vertoon as wat ek kies.