[p. 43]
Gebed om die Gebeente
D.J. Opperman
Heer, waar U noordewind die droë dissel rol
en oor die skurwe brakland jaag van Afrika,
maar eindelik teen ‘n doringdraad met pluksels wol
vaswaai terwyl die kraaie en die aasvoëls kla,
laat my ook nà die swerf oor vlaktes heen nou rus
en glo my kind is dood, al hoor ek die berigte
om my krys: ‘Ek het hom as matroos hier aan die kus…’
‘Ek: as stoker op ‘n trein…’ ‘Ek: in vaalgeel ligte
van ‘n steenkooldorp se kroeg nog nou die dag gesien…’
Glo omgekoop! Of hy sou skielik blink gesteentes
smokkel… blink gesteentes! Selfs dan… Nee, miskien
lê hy tog êrens dood; maar, Heer, dan die gebeente,
wys my, en gee my die drag gebeente van my skoot
dat ek nie opgejaag deur hierdie land bly swerf
en soek, maar eindelik rus en weet hy het deur lood
onder twee mudsak ongebluste kalk gesterf.
Snags het ek soms gelê en vrees daar sou iets boos
oor hierdie kind nog kom, want in Middelburg se kerk
staan duidelik in die doopregister sy geboorte
nie na die stand van sy gesternte aangemerk.
En, soos wanneer jy tussen vinger en die duim
die wit son rol en skitter in ‘n diamant,
sou hy deur Vrystaat en Transvaal se leiblou ruim
uit spieëls ons stryd laat blits en straal van rant tot rant.
Maar hy móés sterf: die Dood het self hom eers gejag
deur kou riviere van die Kaap, dwarsoor Anysberg
tot in die buitekamer op ‘n plaas, waar hy een nag
in koue sweet moes lê en aan borswater sterf…
toe ‘n tweede jagter hom van tent na trein, van trein
na tent met doringdraad en bajonet bewaak
en met gemete sorg van arts en medisyne
vir’n tweede dood, o Heer, stadig gesond kon maak.
En ná die skynverhoor het hulle hom vertel…
voor Graaff-Reinet se sel. O Graaff-Reinet se sel!
Hy was gewone kryger, Heer, en geen rebel.
O Graaff-Reinet se sel… Eségiël! Eségiël!
Vergeef my die gelykenis, Heer: ek weet ‘n hond
as hy versadig is, verag die been en murg
maar bêre dit agter ‘n bossie in die grond
– behoedsaam, en snuffel met die tweede honger terug:
[p. 44]
Teen middernag het op bevel ‘n vyf soldate
die kalkwit bondel beendre in die kalkwit doek
met grawe en lanterns in verskeie gate
onder die roosmaryn langs die rivier gaan soek
en herbegrawe… toe U die storm word, Heer; ek weet
U en die vyand het die nag in die vallei
deur geel geflikker in slagreëns mekaar gemeet
oor wie uiteindelik my kind se lyk sou kry.
Hy moes drie dode sterf, maar hy wat driemaal sterf
die sterf nie meer; hy word nou elke dag gesien
as ‘n matroos, of stoker op ‘n steenkoolwerf,
in myn of tronk, in sirkustent of ‘n kantien –
hy leef in hierdie land nou ewig en altyd!
Maar soveel beendre lê onder die roosmaryn…
Seën, Here, ál die bleek gebeente van die stryd –
ek ken as moeder ná ‘n halwe eeu van pyn:
een land vol skedels en gebeente, een groot graf
waaroor U noordewind die droë dissel waai
en spruit en krans vul met die afloskrete van
die aasvoëls, van die wildehonde en die kraai
– dat ons as een groot nasie in dié gramadoelas
met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,
en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas
ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.