[p. 124]
Gedichten
door D.J. Opperman
Dennebol
vir A.
Waar is die bose stad gekrap uit die ashoop? –
Ons glasdakbus glip toetelend na die hotel,
en toe ons stram uitklim en na die hekke loop,
haak knapsekêrels aan ons vas en steek en kwel:
Wil ons dié kaart? diè boek? die pornofoto’s koop?
‘Sie julle padgee!’ baklei die gids … begin vertel:
‘Dáár is Vesuvius, die verknotte keël …’
– Toe, uit my jongmansjare, stuif ‘n jeugdtoneel:
My vader het so pas ‘n skildery voltooi:
‘n Steenkoolmyn ontplof, die mense vlug, die bol
swart as en vlam wat dit die lug instrooi,
is ‘n fontein of ‘n verkoolde kiepersol!
Ek sê: ‘Gesog!’ Hy: ‘Skepper en skepping. Mooi!’
Ons stry, en soos ‘n seun hou ek moedswillig vol,
toe hy met oë na die skildery soms skeef,
die brief van Plinius oor Pompeii aan my voorlees:
‘Ja, ek onthou nog duidelik die dood van Oom.
Die middag, van die olie en die sonlê klam,
wek Moeder hom en wys beangs die rook en stoom
bokant Vesuvius wat uitspuit tot die stam
en skurwe takke van ‘n platkopdenneboom
vol as en klippe in die kruin en stukke vlam.
Toe ruk hy van Misenum met die volle vloot
na die smal kus waar mense wegvlug van die dood.
Die denneboom se boonste takke sproei uiteen
met groen vlammenaalde wat die rook deurprik;
toe sintel uit kerspitte van die kruin meteens
op dobberende dak en dek van elke skip
die skilferende stuifmeelpoeier van puimsteen
en geskubde dennebolle brandende klip.
Oom – asmaties – dikteer waarnemings op sy boot,
toe val hy skielik van die swameldampe dood …’
‘En verder?’ ‘Goed, Tacitus, ek sal die ramp beskryf.
Die huise tril, die see krul in homself terug.
Ons hardloop, maar Moeder, oud en swaar van lyf,
wou sit en sterf, sodat ek onbelas kon vlug.
“Nee, kom!” Ek vat haar aan die dik boarm styf.
[p. 125]
Sy verwyt die ouderdom en vet, sy snak na lug.
“Die voete op die paaie sal ons tog doodtrap.”
Ek moes deur ‘n lupineveld maar stadig met haar stap.
‘n Gehyg en hoes, gesoek na water … sluk en gorrel;
die perde en die wingerde omheen word wit
onder die asreën wat vanuit die berg opborrel –
ons moes, soos hoenders, die stof kort – kort van ons skud –
toe druis die warm eiers van lapilli-korrels
oor kop en skouers. Party skreeu en ander bid.
Agter die klippereën en rook verdwyn die son
– ‘n dreunende duister het oor alles neergekom.
Is dit die oopskeur van die nag der nagte
wat nou die ganse mensdom én die gode tref?
‘n Geroep na kinders en bemindes, ‘n sagte
gekerm en gesnik, en liedere word aangehef.
Maar, wil jy glo, dit troos my nogal die gedagte
dat ek tesaam met almal én die aarde sterf!
Toe ‘n flou lig eindelik deur die wolke stoot,
staan alles in die wit dons van die dood.’
Dis of die gids se stem jou kyk-en-dink verstoor.
Agter dié glas: brood, dobbelstene, falli, vrug,
skaapskêr en beuel, ‘n swanger vrou lê krom vooroor
op elmboë en gesig, soos sy die dood ontvlug;
‘n waghond met halsband om sy nek versmoor,
happend na asem, pote rukkend in die lug …
Deur die murasies kruip die tor en die toeris
en vlug die bruingespikkelde groen akkedis.
Was dit net so’n middag? … Onder prampuntgranate
lê ‘n stuk of ses happerig geskeerde skaap,
twee wit osse trek ‘n waetjie deur klipstrate,
matrose drink en dobbel, die waghond krultong-gaap,
mans stry oor die verkiesing en die kandidate,
terwyl die slawe in kombuise wortels skraap.
Sý kyk hoe swaeltjies vlieg, en moeg van werk en wellus
gaan die swanger vrou ‘n rukkie in haar kamer rus …
‘Dit was ‘n hawestad,’ hoor ek die gids bedui.
“Venus en Bacchus bepaal die speelgoed en altaar.
Kyk dié lantern: ‘n fallus waaraan klokkies lui,
dié sater op die bok, hoe dat die kunstenaar
telkens met verf, legwerk of marmer, elke bui
van hartstog soek, soos die maniere om te paar.
Ja, manstaf is die maatstaf – dis die wet van ouds.
Lees hier: ‘Hy is meer werd as sy gewig in goud”.’
Het die een of ander wetsgetroue, swartbaard-Jood
vol afsku vir Bacchus, vol verontwaardiging
oor die roekelose kulti van die kloot en skoot …
of van Christus ‘n vroeë Romeinse volgeling
(deur Paulus in Rome?), wat die heidendiens verstoot
[p. 126]
en weet dat Hy verlossend ‘n ander maatstaf bring,
met voorgevoelens van dié naderende uur
‘Sodoma, Gomora’ gekrap teen hierdie muur?
Nou sal die oë van die waghond ewig staar,
grondwaarts, terwyl sy pote stuiptrek teen die lug,
dié sater, bok, dié mans en vrouens ewig paar,
dié swanger vrou probeer om van die dood te vlug;
haar kind bly in sy groei nou ewig ongebaar,
die werksman het gaan eet, keer van sy huis nooit terug,
en die seun sal deur die eeue almal wakker raas
soos hy ewig oefen om ‘n beuel te blaas.
Hoe lank sal hierdie spel vir ons voortduur
voordat ‘n aar bars, atome stoel uit die atol?
Ons stap hotelwaarts, bewus van daardie vuur
wat deur verslingerde stuifmeel en dennebol
meteens binne ‘n apokaliptiese uur
‘n waghond, swanger vrou, ‘n hele stad kan stol.
Ek gee aan hom wat rus nou in die doderyk,
volkome wat die kiepersol betref, gelyk.
Carrara
‘Verdedig hierdie dooie skilderye en my naam,
Want oor die geskilder moet ek my skaam.’
Michelangelo oor die Sikstynse Kapel
Uit boud en skouers bot lang steiers,
want Julius II gebied: ‘Jy mag volstrek
geen beelde kap, maar moet met skilderye
gou die koepel van my klein kapel oordek.’
Die strop is om my strot! Hoe kan ek weier?
Ek boggel van lank buig in hierdie plek,
word gek van Rome wat my tyd verbeier,
van lui handlangers onder in gesprek
en die gewriemel om die Pous van vleiers.
Skepper van skepsels, deur dié skinderbekke
stop Julius, ons allergeestige verleier,
my ‘n verfkwas in die hand! – Ek kan nie lek,
en daarom is ek nou soos in vrot vleie
van Lombardye se waters slykoorstrek,
‘n ogiesknippende, maer, langpoot reier
in die stank én swak lig van dié vertrek.
Ek skilder, maar die kranse van Carrara lok
waar ek op beswete skimmel vir sy praalgraf
klippe kies. Ek weet hoog in dié berg se nok
hang daar ‘n vlermuis wat hom moet loshak,
in draaiings van die digste marmerblokke
moet ‘n ram se horings uit die klip ontsnap.
[p. 127]
Hoe beur die kloutjies, die knokkels van ‘n bok,
die rompe, borse wat na asem snak –
‘n berg van vlees, geknop of soos kapok! –
mans met spiere trillend of verslap,
heupe, dye, die veerkrag van haarlokke,
dik kabels baard, gesigte smartbekrap,
die malse seuns en holtes van ‘n rok
dat ek in die slapelose blydskap
met beitels en die hamer brok vir brok
die klipkors om hulle heen wegkap.
Skepper van skeppers, soek hulle my gebrek,
om met geskinder my skilderye te bespot?
Lei U die kwas dan dat ek as argitek
en beeldhouer hul flous, en uit die grot
van chaos die grootsste praalgraf skep:
waar U teen die solder van die hemel God
as Oerkrag met net die vinger uitgestrek
die aarde, plante, sterre, Adam … tot
die sondeval, profete … uit Carrara wek. –
Haastige kwaste besprinkel uit palet en pot
my maag en bors, my hol gesig en nek –
my rug en boude eelt, word skub en knop,
ek buig my om in bogte, oordwars trek
ek my oop; my hande, voete, senerige strot
rek en roer – ‘n omgedopte bergskilpad, ek
wat krabbel, krabbel … Help, o help my, God!
Roy Campbell
Ek het ‘n beuel deur alles heen hoor blêr
toe skuif die afskortdeure oop,
en teen my kop se melkwit ster
tart die wêreld tot ‘n stormloop
van oog- en neusgat, elke sintuig oopgesper.
Aan alles kleef ‘n soutreuk van die dood
wat gebalde drifte in my wek
waar elke roering in my oog vergroot
tot reënboë, en ek
die skerp penpunte van die horings stoot.
Ek krabbel op behaarde perkament
littekens en nat rowe;
sal die flanke van jul vaal lug skend,
en oor die berge en die klowe
wolke donder losbulk uit die firmament.
Maar vanuit die kosmosvelde word die hart
deur caballero’s weggelok
na die arena van die goud en swart
en, voor die skares afgehok,
deur rooi skoenlappers uitgetart.
[p. 128]
Perdepootmuskiete met langspies verskyn …
eindelik kan ek die vyand raak!
Maar die skermmat gee mee, en hy verdwyn.
‘n Gewriemel, my werwelbene kraak –
ek ken die brons krisante van die pyn.
Krap die sand en wek twee winde,
maar uit hul draf twee rooibont
tarters wat vier weerhakpunte
van staaldorings in my wonde
plant met wapperinge van kleurlinte.
Ag! ruk die hekke oop dat ek soos vroeër vry
tussen die waterpan en berge
waar my nekvel deur die klokgras sny
en blou steekvlieë terge,
weer sorgloos langs die heupe van my kudde wei.
Rooi word die wêreld en van bloed deurweek …
Dan in die miershoop van my skof
voel ek die spits tong van die erdvark steek:
‘n geswerm … tot dof
die gepeupel in pupilles breek.
Skoonmakers hark met vaste greep;
rooi angeliere val in buie,
die aasdrywer klap haastig sy horssweep
en onder die lui van klokkies aan die tuie
word ek deur muile uitgesleep.
Ou kroonhandelaar
Oordekte lelle en plooivelle
aan skouers en bros bene –
met borsspelde en wit parallelle
pêrelsnoere en halfedelstene
van armbande, ringe en oorbelle.
Sy is geslypte skitterprag,
haar stem, ‘n wind wat sidder
deur tinkelende splinters glas
en blinkerrok oorflikker
met twaalf kunskersekrag.
Die spieël bêre weer die belle,
borsspelde, armbande, pêrelsnoere,
hang die lelle en plooivelle
aan ‘n glasgeraamte vol kontoere
van kalkoenrooi druppeldrelle.
See velde van bamboes
Miljoene swetende rompe
beur en buig,
die voete in klipklompe
vasgesuig.
Arms wil omhels,
bene buig oop,
maar gebed of gesels
bly sonder afloop.
Lywe ruk op, knak;
moedelose gebare,
agteroor sak
nat stringe hare:
alle verlangens,
verniet, verniet,
ewig gevange
in getye van verdriet.