Jan Greshoff, de Grashof, by Kloofnekweg, Kaapstad, Suid-Afrika
Etienne Leroux
Ek het Jan Greshoff vir die eerste keer in die jaar Vyftig leer ken. Die aandeel wat hy gedurende die dertigerjare en die veertigerjare in die Afrikaanse letterkunde gehad het, kan alleen ons grootste digters met erkentlikheid betuig. Dit was vóór my tyd as skrywer, maar hy was toe alreeds’n legende. Ek onthou’n foto van hom in een van ons bekende tydskrifte nadat hy so pas hier geland het. Ek het toe al jeugdige ambisies gehad om skrywer te word en dáár sien ek die gesig van’n skrywer. Dit was die jare toe ek as kind visueel ingestel was op my helde: staatsmanne, filmsterre en skrywers.
Namate filmsterre en staatsmanne met rypwording uit my gesigsveld verdwyn het, het ek vandag net twee visuele beelde oor: Jan Greshoff en Virginia Woolf, die twee mees byblywende gesigte wat in my onbewuste spook. Elke skrywer sien in sy geestesoog die gesig van’n skrywer wat die toonbeeld word van sy eie skrywerskap. ‘n Bietjie argwaan, ‘n bietjie droefheid, ‘n bietjie afsydigheid en ‘n enorme wondbaarheid.
Jan Greshoff was alreeds ‘n held van my kinderjare voordat ek die voorreg gehad het om hom te ontmoet en voordat ek geweet het dat hy die ongelooflike gawe gehad het om die vonk van skrywerskap oor te dra. Hy was die opperpriester van skrywerskap en hy het dit met die waardigheid van sy amp hanteer.
Elke skrywer roof ‘n bietjie van mede-skrywers; die kritikus is die analitikus; maar elke skrywer het ‘n patroon nodig, asook ‘n magus wat hom kan prikkel tot die onbekende. So iemand was Jan Greshoff. ‘The Wise Old Man’ van Jung. Ek was nooit bewus van enige ouderdomsverskil tussen ons nie. Diep in sy tagtigerjare kon hy met ‘n flits in sy oë my vernietig, wyn saam met my drink, en
my proef na ‘n wellewendheid wat ook die skrywerskap insluit. Hy was presies op hoogte wat in Nederlands, Engels, Frans, Duits, Italiaans (noem die tale) geskryf is. Tot op datum. Daardie selfde oë, wat my kon peil, kon ook die dialek van ons tyd sien. Hy was ‘n fynproewer van die renaissance wat die hergeboorte in al sy verwronge vorms van vandag kon begryp. Niks wat nuut is was vir hom vreemd nie. Vir my was hy die klaarhelder toppunt van fynwaarneming; sy aforismes ‘n spel met homself en die gemeenskap.
Ek vind dit moeilik om iemand soos Jan Greshoff te beskryf vir mense wat hom nie geken het nie. ‘n Marcuse wat ‘n jeugrewolusie kon veroorsaak het indien hy tot die sosiaal-antropologiese wêreld behoort het; ‘n Castro in sy verbeelding indien hy ‘n politikus was; ‘n aktivis op vreemde slagvelde indien dit hom nie sy tijd beroof het van sy skrywerskap nie.
Jan Greshoff het die aleph gevind en hy het die geheim aan medeskrywers meegedeel.
Vra vir Pierre Dubois.
Vra vir Adriaan van der Veen.
Vra vir ander skrywers wat ek nie ken nie.
Vra vir Goris.
Ek is nie van natuur geneig om sentimenteel te wees nie, maar daar kom goeie trane in my oë as ek deesdae skryf en hom oor my skouer gewaar en hom hoor sê: ‘Dat gaat niet!’
Ek dink die rebelle van vandag kan nie behoorlik die rebelsheid van Greshoff begryp nie. Sy rebelsheid, sy soort van avantgardisme, was nie tydgebonde nie. Greshoff het hom nie verstrik in die ekstase van die verset van die oomblik nie. Kleinburgerlikheid was die kol van sy satire en dit het oor ‘n hele leeftyd gestrek; kleinburgerlikheid in die letterkunde was die skyf van sy tong en sy pen en by kon dit doen omdat hy, as die ewige buitestaander, in staat was om met insig en kennis die verfyning van werklike skepping te kon onderskei van die tydgebonde spel van die charlatan. Jan Greshoff was die geestelike appélregter wat anargisme kon begryp, sowel as die tirannie van die establishment. As mens het hy gely aan sy menswees, sy besondere ydelheid, sy besondere voorkeur wat sy vriende en hulle besondere levensopvatting betref. Maar op
die gebied van die letterkunde was daar ‘n geraffineerde, objektiewe oordeel, ‘n kil afsydigheid; die gestrenge monnik in sekere opsigte – in homself die angs om teenstrydighede saam te vat. Jan Greshoff het swaar gedra aan die digotomie in sy samestelling, maar dit het hom ‘n alchemistiese insig besorg wat alleen sy toegewydes kan begryp.
Wat Greshoff my geleer het, is my eie geheim wat ek jaloers bewaak. Op ‘n sekere stadium het hy my uit die nes uit geskop en my te kenne gegee dat dit tyd is dat ek moet leer om te vlieg. Daarom sluit ek my deel van die In Memoriam af met Jan Greshoff op Janee, Koffiefontein, en Jan Greshoff op De Grashof, Kaapstad.
Hy en Aty het dikwels gedurende die somermaande op Janee kom kuier. Ek het hulle op Modderrivierstasie gaan haal, in die woestyn van die Noord-Kaap, in ‘n ‘voorwêreldlike landskap’, soos hy dit genoem het. Hy groet my skaars terwyl hy angstig toekyk hoe ‘n slapgat kruier sekerlik sewentien tasse uit die bagasiewa haal. Helfte van die tasse is vol boeke. Op pad na Janee, dertig myl oor ‘n grondpad, kyk hy strak voor hom. Die sonsondergang is onbeskryflik, maar hy kyk nie daarna nie. In ‘n sekere sin het hy ‘n bietjie van ‘n minagting vir die natuur: alle manifestasies van natuurskoon is ‘n soort collage. Tuis in my huis, pak hy sy boeke op ‘n rak in sy kamer, rangskik hy sy eiland tot sy bevrediging, en na ‘n bad verskyn hy vir aandete, keurig uitgevat, ‘n fynproewer van wyn en kos en die beskaafde gesprek.
Daarna gaan ons na my studeerkamer, met sy pype wat hy later langsaam rook, omring deur boeke, volkome ontspanne om ‘te kletse’. Die formidabele man word sag en rustig en hy vertel my van Vestdijk, Achterberg, Slauerhoff, Bloem, die koninklike familie in Nederland, digters en skrywers in Amerika, Frankryk, Italië, Engeland en Duitsland. Die Almanach de Gotha ken hy uit sy kop uit. Hy vertel my van dae in Parys, die skilders wat hy geken het, en die volgende oomblik noem hy skrywers en boeke wat so ‘with it’ is dat ons plaaslike literatore eers jare daarna daarvan kennis geneem het. Met sy bekende vrygewigheid was daar altyd ‘n boek vir my uit die skatkis van sy bagasie. Later in die aand word by vaak ná ‘n slaapmiddel wat sy dokter vir hom voorgeskryf het en dan gaan hy en Aty na die slaapkamer waar die deur en die ven-
sters dig gesluit word. Dis nié teen inbrekers nie, maar gebonde aan die ritueel van die eiland wat hy lankal vir homzelf geskep het. Die geslote deur is ‘n Rots van Gibraltar wat die toegang tot die eiland in die Middelandse See van sy sonnige meditereense gedagtevlugte téén die aanslae van barbare beskerm. Jan Greshoff was verstandelik so kil soos die noorde, maar sy hart het aan die warm suide behoort.
In die oggend, tot twaalfuur, is Jan Greshoff nie te vinde nie. Dan skryf hy aan sy dagboek, aan sy rubriek in Het Vaderland – of is dit ‘n gedig wat vorm neem? – of oefen by die literêre toonladders? Alleen Aty sal weet.
Die middag is siesta-tyd. Dit breek sy dag in twee. In die oggend is hy vakman; na siesta is hy waarnemer, asook raconteur. In die laatmiddag ry ons in my ligte vragmotor oor afgryslike paaie om die boerdery te inspekteer. Maar, dis nie die boerdery wat hom interesseer nie, dis die menslike faktor. Teenoor my werknemers toon hy dieselfde hoflikheid as teenoor die Koning van Spanje, maar daarna kom sy skrywersnuuskierigheid tevoorskyn. Ek moet hom alles van almal vertel. ‘n Boer uitgevat in ‘n netjiese pak klere op ‘n Fergusontrekker, in die dorp om inkopies te doen, word deur Jan Greshoff gegroet. Hy verstom hom aan die winkelvensters op ‘n klein dorpie; by bespreek ‘skilderye’ van plaaslike tentoonstellers met die ‘skilders’ self sonder ‘n glim van lag. Sy skerp tong is stil.
Teen sononder drink ons ‘n drankie op die grasperk van Janee. Jan Greshoff het ‘n ‘smoker’ aan, volgens die nuutste mode van daardie tyd. Sy weg na ons sitplek is langsaam en hy het ‘n paar boeke in sy hand asof hy kontak met sý wêreld wil behou. Hy het nie geglo aan oordrewe liggaamlike aktiwiteit nie, en tog beweeg hy met ‘n besondere elegansie wat ‘n sekere taaiheid in sy fisieke toestand weerspieël. Hy vertel my dat Simenon vir sekere werke die Nobelprys waardig is. Hy vertel my dat sy grootste begeerte is om ‘n destyds berugte leier van die mafia te ontmoet wanneer hy volgende jaar na Amerika-toe gaan om ondermeer by sy vriend, Goris, te kuier.
Die son is besig om onder te gaan: die bloekombome roer in die wind teen ‘n agtergrond van ‘n bloedrooi gesigseinder. Die swa-
weltjies van ons somer beweeg saam met die wind. Sien Jan Greshoff dit raak?
Dis eers lank daarna dat ek in een van sy gedigte presies hierdie beeld gekry het – my Marokkaanse huis, die voëls en die bome en sy profetiese blik dat dit tyd is om te gaan.