Kwatryne
Besitloosheid verlos mens van verlies:
as jy op lange laas genoeg gely’t
los jy wat onherkrygbaar is en kies
van leegheid die verworve sorgloosheid.
*
Waar hý noukeurig aankruip knars die oes
voor die onwrikb’re ywer van die vraat
wat àl wat groen en glinsterend is verwoes
en slegs ‘n vaal uitwerpsel agterlaat.
*
Weerskant wink neonseine langs die straat;
as die verkeerslig wip van geel na groen
wys God Sy ondeurgrondelike gelaat
en, werend opgehef, Sy wit handskoen.
ELISABETH EYBERS